Skandinawië en Baltiese lande Toer

13 – 26 Julie 2026

R69 950

(per persoon wat dubbel of twinkamer deel, gekoppel aan wisselkoersveranderinge en vliegtuigkaartjiepryse)

Totale toerprys sluit retoer vliegtuigkaartjies met lughawe belasting in: R69 950

Finansiering: ‘n deposito van R6 000 is betaalbaar met bespreking, uitstaande balans: 3 maande voor vertrek

NIE INGESLUIT BY U TOERPRYS:

  • Koste om ‘n paspoort, visum en reisversekering te kry.
  • Koste om by die lughawe in Johannesburg te kom
  • Fooitjies vir gidse en busbestuurder
  • Sakgeld, drankies, meeste middagetes
  • Opsionele uitstappies
Enkelkamertoeslag R10700

Dag 1 – Vertrek vanaf Johannesburg Internasionale Lughawe na Stockholm in Swede. Aandete aan boord. Meld reeds 3 ure voor vertrek in en ontmoet jou toerleiers in die Internasionale vertreksaal nadat hulle deur doeane gegaan het.

Dag 2 – Welkom in Swede! Ons toer begin met jou aankoms in die pragtige stad Stockholm, die ‘Venesië van die Noorde’. Na jou vlug word jy by die lughawe verwelkom en na ons hotel geneem vir inboek. Ontspan, vars op en ontmoet die res van die groep. Ons gesels saam oor wat ons in die komende dae kan verwag. Geniet ‘n heerlike aandete by die hotel en rus goed uit vir die opwindende reis wat voorlê.

Dag 3 – Na ‘n heerlike ontbyt begin ons die dag met ‘n begeleide stadstoer deur Stockholm. Ons verken bekende landmerke soos Gamla Stan (Ou Stad), die Koninklike Paleis en Stadshuis. Daar is genoeg tyd om foto’s te neem en die stad se geskiedenis te bewonder. Die middag is tot jou beskikking – ontdek die sjarme van Stockholm op jou eie, gaan inkopies doen of geniet ‘n koffietjie langs die water. Aandete word weer by die hotel bedien.

Dag 4 – Na ontbyt besoek ons die beroemde Vasa Museum, waar die indrukwekkende 17de-eeuse oorlogskip bewaar word. Daarna ry ons hawe toe waar ons op ‘n gemaklike oornagveerboot klim na Helsinki, Finland. Geniet die see-atmosfeer en ‘n aandete aan boord terwyl ons oor die Baltiese See vaar. Oornag in jou kajuit met die rustige deinings van die oseaan.

Dag 5  Ons arriveer in Helsinki en begin die dag met ‘n stadsverkenningstoer. Ons besoek die Finlandia Saal, die indrukwekkende Parlementsgebou, en die unieke Kerk in die Rots – ‘n meesterstuk van moderne argitektuur. Daarna is daar tyd om die stad op jou eie te verken of ontspan by die hotel. In die aand wag daar ‘n heerlike ete en ‘n rustige aand in die Finse hoofstad.

Dag 6   Geniet ‘n rustige oggend in Helsinki – miskien wil jy ‘n park besoek of plaaslike mark verken. Ons neem daarna die middagveerboot oor die see na Tallinn, Estland. Na aankoms word ons na die hotel geneem waar jy kan inboek en vars opknap voor aandete. Die aand is vry vir geselskap en ontspanning.

Dag 7 – Na ontbyt begin ons ‘n uitgebreide begeleide staptoer deur die Middeleeuse Ou Stad van Tallinn. Hierdie UNESCO Wêrelderfenisgebied is vol geskiedenis, met stoppe by die Alexander Nevsky-katedraal, die Domkerk, en die historiese Toompea-kasteel. Na middagete het jy vrye tyd om winkels en koffiewinkels te verken. Ons sluit die dag af met aandete en gesellige saamkuier.

Dag 8 – Ons verlaat Tallinn vroegoggend en reis suidwaarts na die kusdorpie Pärnu – ‘n gewilde someroord aan die Baltiese See. Hier kan jy op eie houtjie wandel in die voetgangersstraat Pühavaimu, die ou stadsmuur sien en die St. Elisabeth-kerk besoek. Geniet die rustige vakansieatmosfeer voor ons inboek by die hotel vir aandete.

Dag 9 – Na ontbyt vertrek ons in die rigting van Riga, Ons besoek Cesis oppad met ’n begeleide toer wat die Cesis-museum insluit. Van daar ry ons verder na Riga waar ons in ons hotel sal inboek en aandete sal geniet.
 

Dag 10 – Vandag verken ons Riga, Letland se betowerende hoofstad. Ons toer sluit besoeke in aan die Huis van die Swartkoppe, die Sweedse Poort, die Poedertoring, en die bekende Kat Huis. Ons besoek ook die Riga Domkerk met sy indrukwekkende orrel. In die middag ry ons na die kusdorpie Jurmala vir vars seelug en vakansiegevoel. Ons keer terug vir aandete in die stad.

Dag 11 – Ons ry na die pragtige Rundale Paleis, ‘n barok meesterstuk met beeldskone tuine. Daarna reis ons verder na Kaunas in Litaue vir ‘n kort toer deur die ou stad. Laatmiddag vertrek ons na Vilnius waar ons inboek by ons hotel en ontspan met aandete.

Dag 12 – Ons verken Vilnius se historiese skoonheid met besoeke aan die Katedraal, St. Anne’s Kerk, St. Peter & Paulus-kerk, en die Heuwel van Drie Kruise. In die middag ry ons na Trakai vir ‘n besoek aan die 15de-eeuse kasteel wat op ‘n eiland geleë is – een van Litaue se mooiste plekke. Daarna keer ons terug na Vilnius.

Dag 13 – Na ontbyt neem ons afskeid van mekaar en vertrek na die lughawe vir ons terugvlug huis toe. Ons keer terug met harte vol herinneringe en nuwe vriende – ‘n ware Baltiese avontuur wat ons nie sal vergeet nie.

Dag 14 – Ons arriveer op Johannesburg Internasionale Lughawe.