ALGEMENE VRAE
Met watter lugredery vlieg ons?
Ons vlieg hoofsaaklik met Air France en Emirates. In ons opinie van die beste lugrederye tusssen SA en Europa.
Hoeveel beloop lughawebelasting?
Lughawebelasting (wat ook ‘n brandstofheffing insluit) word in Amerikaanse dollar bereken. Daarom hang dit af van die olieprys en wisselkoers en gevolglik verander dit van dag tot dag. Maar, dit is reeds ingesluit by u toerprys, soos aangedui op die inskrywingsvorm.
Wat van al die vreemde geld?
Ons gee u breedvoerig raad oor kredietkaarte, wisselkoerse en belastings.
Wat van visums?
Op grond van wetgewing deur die Europese Unie, mag ons nie meer namens u aansoek doen vir visums nie. Ons gee u volledige voorligting met die invul van die aansoekvorms en voorsien u van al die nodige dokumentasie en inligting vir u aansoek.
Kan ons aansluitingsvlugte van die Kaap of Natal na Johannesburg kry?
U kan dit gewoonlik goedkoper self reël as wat ons dit kan kry. Soms kan ons vir u die vlugte bespreek. Met Emirates kan ons soms direkte vlugte vanaf Kaapstad en Durban kry.
Waarom is julle prys heelwat laer as ander toere?
Ons probeer om ons oorhoofse kostes en winsgrens so laag as moontlik te hou. Ons skakel so ver moontlik die middelman uit en beding self vir die beste pryse.
Kan senior burgers saam toer?
As u gesond is, en in staat is om so twee tot drie kilometer te stap en self vir u tas (wat nie te swaar mag wees nie) te sorg, kan u saam kom. Daar was al gesonde, fikse persone van 70 en ouer saam met ons. Persone ouer as 75 moet verkieslik vergesel word van ‘n jonger kamermaat wat na u kan omsien.
Sal ek nie verdwaal in die vreemde nie?
Ons maak seker dat almal aan boord is voordat die bus vertrek. U kry ook ‘n kaartjie met elke hotel se naam, adres en telefoonnommer.
Wat van fooitjies?
Fooitjies vir kelners is opsioneel, maar dit is gebruiklik om ten minste ‘n fooitjie van 10% van jou rekening as fooitjie te gee.
‘n Eenmalige fooitjie van €20 per persoon vir die busbestuurder.
Hoe raak die veranderende wisselkoers die toerprys?
Die toerprys word bepaal deur die prys van die vliegkaartjie en die wisselkoers van die Rand teenoor die Euro. As die Euro verhandel tussen die grense soos aangedui by elke toer bly die toerprys onveranderd. Buite hierdie grense sal die toerprys met ongeveer R100 per 10 sent verandering in die wisselkoers aangepas word.
Hoe verskil julle van ander toermaatskappye?
Eerstens is ons ‘n Afrikaanssprekende organisasie. Die voertaal op die toer is Afrikaans. U toergids praat Afrikaans, behalwe as ons in uitsonderlike gevalle ‘n plaaslike toergids vir ‘n uur of twee gebruik.
Ons ontmoet u in Johannesburg. U is onder die sorg van u toergids vanaf Johannesburg tot weer in Johannesburg. U hoef nie op eie koste sonder hulp te sukkel tot in London of elders nie. U hoef ook nie ekstra kostes aan te gaan vir ‘n hotel voor en na die toer nie.
Ons toerlede is uitsluitlik Suid Afrikaners en meer as 90% praat Afrikaans.
Ons sorg dat u elke dag twee etes kry (ingesluit by u toerprys). U hoef nie saans in die vreemde rond te val om ‘n duur eetplek te kry nie. Hoogstens sal ons u een of twee aande vra om u eie keuse uit te oefen.
Kry gerus by u reisagent van die glansbrosjures en vergelyk dit met wat ons u bied.
Ons sien onsself as die klein winkeltjie op die platteland waar jy die eienaar op sy voornaam ken en jy sy huistelefoon het, sodat jy hom saans kan skakel as jy ‘n probleem het.
Persoonlike diens is ons strewe.
Skakel gerus een of meer van ons vorige toerlede as u enigsins twyfel. Lys van toerlede beskikbaar op aanvraag.
Watter hotelle word gebruik?
Ons gebruik deurgaans hotelle van ‘n baie goeie standaard. In die stede gebruik ons gewoonlik driester (of beter) hotelle en in die platteland familie hotelle wat ons al vir baie jare ken. Alle kamers het ‘n eie badkamer met minstens ‘n stort, wasbak en toilet.
As u gelukkig is kry u dalk ‘n kamer met ‘n balkon wat uitkyk op die see, meer, berg of rivier. Van die hotelle is toegerus met televisie, yskaskroegies en haardroërs.
Aandetes is altyd ‘n driegang aandete met ‘n voorgereg, hoofgereg en nagereg. Drankies is opsioneel vir u eie sak. Ook koffie of tee, behalwe tydens ontbyt.
Ontbyt is in die meeste gevalle ‘n Europese buffetontbyt met graankos, ‘n verskeidenheid brood, kaas, konfyt, koue vleis en koffie of tee. Soms is daar gekookte of roereiers met spek.
As u enigsins wonder kan u gerus van ons vorige toerlede skakel. Vra ons gerus vir ‘n naamlys of lees hulle kommentaar by “Terugvoer“.
Termes & Voorwaardes
1. Sien Toerplan voorsien / besoek ons webblad www.andretoere.co.za vir die toerprys & toerprogram.
2. Daar is ‘n toeslag op enkelkamers , wat toer spesifiek is; verkrygbaar op aanvraag.
3. Die toerprys is onderhewig aan vliegtuigkaartjie prys-veranderinge (Lugredery se ‘Taxes & Surcharges’).
4. Die toerprys is onderhewig aan veranderinge en gekoppel aan die Rand/Euro wisselkoers
5. Die toerprys sluit die volgende in:
• Retoervliegkaartjies vanaf Johannesburg na Europa / Rusland en terug.
• Lughawebelasting behalwe die gedeelte indien meer as R500 bokant die gekwoteerde lugdiensprys
(bv. sou die belasting met R600 styg bokant die gekwoteerde waarde, betaal u slegs R100 in) .
• Kamer in toeristeklas-hotelle, met ontbyt elke dag, en meeste aandetes in Europa .
• Busvervoer in ‘n luukse, lugversorgde toerbus met toilet, koffiekroeg & koue verversings in Europa.
• Tolbelasting en parkeerkostes in Europa .
• Hawebelasting, asook busvervoer vanaf die lughawe.
• Ander ekstras soos aangedui in die Toerplan of op ons webblad
6. Die volgende word nie ingesluit nie:
• Koste om ‘n paspoort en visum te verkry. Ons voorsien instruksies en dokumentasie om ‘n visum te bekom.
• Algemene fooitjies en sakgeld .
• Fooitjies van €20 per toerlid vir busbestuurder in Europa.
• Reisversekering wat Mediese dekking insluit. Ons bied wel hierdie diens aan om namens toerlede reisversekering aan te koop (meer inligting sal voorsien word) .
• Ander opsionele uitstappies en toegangsfooie.
ALGEMEEN:
1. Alle fondse ontvang, word in ‘n Euro-trust rekening gehou totdat betalings aan hotelle, lugrederye ens. namens toerlede gemaak word.
2. Die toerbestuur behou die reg voor om die toer te kanselleer indien daar nie genoegsame inskrywings is om die toer ekonomies regverdigbaar te maak nie. Reeds betaalde toergelde sal ten volle terugbetaal word. Sou daar egter vis major wees wat die toer om enige rede in die diskresie van die toerbestuur in die weegskaal plaas wat veiligheid of praktiese uitvoerbaarheid betref en hulle dit kanselleer, sal die volgende aanwending vind: Soveel as wat nog nie per toerlid aan die leweransiers van dienste of goedere uitbetaal is nie of verplig is om nog betaal te word nie, word aan die toerlede terugbetaal.
3. As ‘n toerlid se gedrag sodanig word dat dit die gladde verloop van die toer benadeel of aanstootlik is vir ander toerlede, behou Tienie Jonker Toere die reg voor om sodanige toerlid se deelname aan die toer summier op te skort sonder enige aanspreeklikheid of kompensasie aan die betrokke toerlid.
4. Die toerbestuur het die reg om die toerprogram te wysig, te verkort of te kanselleer in die belang van die veiligheid van die toerlede of as gevolg van onvoorsiene veranderings aan die vlugplanne van lugrederye en hotelbesprekings.
5. Toerlede moet gesond en fiks genoeg wees om ‘n toer wat trappe (min) en stap, insluit te kan meemaak.
6. Met die uitreiking of verkryging van enige kaartjie of koepon en die treffing van enige reëling vir vervoer of verblyf tree Tienie Jonker Toere & André Haasbroek toere slegs as u agent / middelman op en is hulle geensins aanspreeklik as prinsipale nie.
7. Tienie Jonker Toere en André Haasbroeke Toere aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige ongerief, verliese, skade, ens. wat mag voortspruit uit ongelukke, weersomstandighede, stakings, oproer, vertragings, oorlogsoptrede of enige onvoorsiene gebeure buite beheer van die toerbestuur nie. Die toerlid sal geen eis teen Tienie Jonker Toere en André Haasbroek Toere of enige van sy personeel instel vir enige verlies, of skade wat met die toer verband hou, anders as in hierdie dokument vervat nie.
8. Dit is elke toerlid se persoonlike verantwoordelikheid om die nodige reisdokumente en visums te bekom; insluitende die maak van vroegtydige visumafsprake.
9. Bagasie en persoonlike eiendom wat op die toer meegeneem word, is op eienaar se risiko en u word aangeraai om dit self te verseker.
10. Indien u tas se afmetings (wiele en handvatsels ingesluit) groter is as 72cm x 50cm x 30cm kan ‘n hanteringsfooi van €5 (ongeveer R90) per dag gehef deur die busdiens. Indien die massa 23kg oorskrei word €2 per dag gehef.
11. Reisversekering: Indien u aangedui het dat Tienie Jonker Toere en André Haasbroek Toere names u reisversekering moet uitneem, bly dit u verantwoordelikheid om die reisversekering polisdokumentasie noukeurig deur te gaan, en indien daar enige vrae, wysigings of kansellasies gedoen moet word, dat u Tienie Jonker Toere/André Haasbroek Toere, binne 48 uur vanaf ontvangs van die reisversekering polisdokumentasie, in kennis sal stel. Tienie Jonker Toere/André Haasbroek Toere het geen aanspraak op die wysigings van terme en voorwaardes van die Versekeraar nie, en tree dus slegs op as agent / middelman met die verkryging van die dekking.