Skandinawië Toer

Vertrek datum:
25 Mei 2024

R64 130

Ons besoek asemrowende dorpies en onderneem plesierbootritte, treinritte en stadstoere. Ons ontdek dele in Skandinawië, Duitsland, Pole, Slovakia en Oostenryk. ‘n Onvergeetlike toer wag op jou!

Landreëlings: R49 150 (sonder vlugte) 

Retoer vliegtuigkaartjies met lughawe belasting: R14  980 per persoon

Totale toerprys: R64 130

Finansiering: ‘n deposito van R4 000 is betaalbaar met bespreking 

• Die balans is betaalbaar voor of op Vrydag, 6 April 2024

• Sakgeld is nie by die toerprys ingesluit nie.

• Die koste van paspoorte en visums en is nie ingesluit nie. Elke persoon is verantwoordelik om self paspoorte te bekom. Hulp sal verleen word met die verkryging van visums, maar elkeen moet self die koste dra.

LW: Die toerprys is gebaseer op huidige landtariewe (hotelverblyf en etes) sowel as wisselkoerse en is onderhewig aan veranderings.

Bagasie moet tot die minimum beperk word vir die uitvlug, want u koop heelwat by en dan word die bagasie te veel. ‘n Middelmatige tas (450 x 720 ) is ʼn vereiste en GEEN groter tasse sal aanvaar word nie. 

SATERDAG 25 MEI

Vertrek vanaf Johannesburg Internasionale Lughawe na Oslo Noorweë. Aandete aan boord. Meld reeds 3 ure voor vertrek aan en ontmoet u toerleiers in die Internasionale vertreksaal nadat u deur doane beweeg het.

SONDAG 26 MEI

Arriveer Oslo lughawe die oggend. Vertrek op ʼn uitgebreide stadstoer van Oslo die hoofstad van Noorweë onder leiding van ʼn plaaslike gids. Ons sien die stadsaal, die paleis, parlementsgebou en die Holmenkollen, waar die jaarlikse ski-springkampioenskappe beslis word, asook ʼn besoek aan die Royal Palace, die Nasionale Teater, die Parlement, die Operahuis wat deur die Middeleeuse Akershus gevestig is. Oslo is ‘n mooi stad met baie parke, mere en beboste heuwels. Daarna is daar vrye tyd voordat ons na die hotel vertrek. Aandete en een aand se verblyf in ʼn hotel in die hartjie van die stad.

MAANDAG 27 MEI

Ná ontbyt vertrek ons na die idilliese dorpie Eidfjord vir een na se verblyf. Reis deur die mooi fjord en mere-gebied van Noorweë, met verskeie besoekpunte in die panoramiese natuurskoon. Aandete in die hotel.

DINSDAG 28 MEI

Na ontbyt vertrek ons na Bergen vir een nag se verblyf. Reis deur ʼn mooi streek van Noorweë oppad na Bergen, seker die mooiste stad in Noorweë. Ons ry al langs die pragtige Hardanger-fjord tot by Brimnes en van daar met ‘n veerboot na Bruravik. Oppad is daar geleentheid vir natuur-uitstappies en om die onbeskryflike tonele op film vas te lê of aandenking-winkeltjies te besoek. Doen ‘n stadstoer van Bergen wat ook “Dogter van die See” genoem word, en in 1070 deur koning Olav Kyrr gestig is op ‘n plek wat deur sewe heuwels omring word. Hierdie vissersdorp het gou tot ‘n bloeiende stad gegroei en in die 12de eeu het Bergen ‘n fenomenale bloeitydperk weens handel en vissery beleef. Besoek die romantiese ou stad Bryggen asook die interessante en moderne nuwe stad. Hierna geleentheid vir inkopies of uitstappies soos ‘n besoek aan die vismark of ‘n rit berg-op met die ratspoor vir ‘n prentjie mooi uitsig oor dié pragtige stad. Aandete in die hotel

WOENSDAG 29 MEI

Ná ontbyt vertrek ons deur die Noorweegse platteland via Stryn na Gudvangen en ry weereens die mooi fjordegebied binne. In Gudvangen onderneem ons ‘n vaart op ‘n veerboot na Flam en vaar oor die beroemde Sogne-fjord – wat die koning van die fjorde genoem word. Hierdie benaming is gepas, want dit is die langste (204km) en diepste fjord (1 296m) van Noorweë. Vanaf Flam onderneem ons ʼn asemrowende treinrit na Myrdal. Ons reis op een van die mooiste treinritte ter wêreld, die skilderagtige roete van Flam na Myrdal. Die roete klim met 863m oor 20km, iets besonders en die ervaring van ‘n leeftyd ! 

Reis verder vanaf Flam, met ‘n mooi roete deur die nou valleie wat oorskadu word deur majestueuse berge en bruisende watervalle en die binnelandse mere, na Gol aan die oostekant van die Sogne-fjord, vir een nag se verblyf. Oornag in Gol en aandete in die hotel. 

DONDERDAG 30 MEI

Reis vanoggend na ontbyt deur die noordelike mere-distrik van Noorweë terug na Oslo.

Arriveer rondom middagete met ‘n kort namiddag geleentheid en vrye tyd vir inkopies, voordat ons laatmiddag per Oornagboot (Ferry) na Kopenhagen vertrek vir een nag se verblyf in die Deense hoofstad. Dit is ‘n ervaring om op die dek te staan as ons vertrek en daarna ‘n belewenis om die luukse boot van hoek tot kant te verken. Later geniet ons ‘n smaaklike aandete in een van die luukse restaurante aan boord

VRYDAG 31 MEI

Arriveer na ontbyt in die hawe van Kopenhagen vir een nag se verblyf in die Deense hoofstad. Onderneem eers ‘n heerlike stadstoer per Kanaalvaart, voordat ons per bus vertrek op ʼn uitgebreide stadstoer van Kopenhagen vir 4 ure onder leiding van ʼn plaaslike gids. Daarna is daar vrye tyd vir eie besigtiging en inkopies. Die besoek aan Kopenhagen neem ons deur die hart van die Deense hoofstad vol historiese geboue en ou strate. Besoek die Little Mermaid en die Gefion fontein, die “Royal” kothuis Amalienborg Palace asook die “Nyhavn Canal” met sy pragtige restaurante en skilderagtige kafees. Besoek ook die Christiansborg Kasteel die tuiste van die Deense parlement, die Royal Opera House, die Tivoli Tuine en nog vele toerisme-aantreklikhede. Later terug na die hotel vir aandete.

SATERDAG 01 JUNIE

Vandag na ontbyt vertrek ons na Berlyn. Reis eers deur die Deense platteland na Gedser aan die kus van die Noordsee waar ons per “ferry” vaar na Rostock in Duitsland. Vandaar reis ons na die hartjie van Berlyn vir twee nagte se verblyf. Aandete in die hotel

SONDAG 02 JUNIE

Vandag is ‘n voldag besoek aan Berlyn en omgewing. Besoek die Brandenburgplein, die geskiedkundige poort “Checkpoint Charlie”, die Berlynse Katedraal, die Reichstag, Kurfurstendamm en Potzdammer Platz. Na middagete en inkopies in die groot afdelingswinkel KaDeWe vertrek ons op ‘n opwindende uitstappie na Potsdam met ‘n besoek aan die “Sanssouci park en tuine” buite Berlyn. Aandete in die hotel. Die aand is daar ook geleenheid om die stad per voet te verken.

 

MAANDAG 03 JUNIE

Vertrek na ontbyt oor die oostelike grens van Duitsland na Praag die hoofstad van Die Tsjeggiese Republiek vir twee nagte se verblyf. Onderweg besoek ons die besondere middeleeuse stad DRESDEN vir staptoer van hierdie pragtige ou stad. Reis deur die Duitse platteland voordat  laatmiddag ons hotel in Praag bereik. Aandete in die hotel. Die aand vry vir eie vermaak

DINSDAG 04 JUNIE

Na ontbyt doen ons ‘n uitgebreide stadstoer van Praag en gee geleentheid vir inkopies in hierdie pragtige stad met sy klassieke geboue. Laatmiddag is daar geleentheid om ‘n bootvaart op die Vltava-rivier te onderneem (Opsioneel.  Aandete in die hotel.

WOENSDAG 05 JUNIE

Vertrek na ontbyt oor die Poolse grens na Wroclaw vir een nag se verblyf. Arriveer rondom middagete vir ‘n uitgebreide stadstoer met besoeke aan die “ou stad” en die beste besienenswaardighede in die pragtige Poolse stad. Wrocław (Duits: Breslau) is die vierde grootste stad van Pole en die administratiewe hoofstad van Neder-Silesië. Wrocŀaw funksioneer as setel van ‘n Rooms-Katolieke aartsbiskop, ‘n Evangelies-Lutherse biskopdom, met talle akademiese instellings asook teaters en museums,en die kulturele en wetenskaplike sentrum van Silesië. Die stad is aan die Oder-rivier en in die sentrum van ‘n belangrike landbougebied geleë. Aandete in die hotel.

DONDERDAG 06 JUNIE

Vandag is ʼn voldag besoek aan Krakow en omgewing onder leiding van ʼn plaaslike gids. Die stadsentrum word deur ‘n groot verskeidenheid geboue in die Gotiese, Renaissance-, Barok- en latere boustyle oorheers. Met baie historiese geboue en 2,5 miljoen kunswerke, het Krakau vir kunsliefhebbers die belangrikste reisbestemming in Pole geword. Ons besigtig die markplein in die historiese stadsentrum met sy unieke geboue en kry geleentheid om die belangrikste besienswaardighede op eie stoom te ontdek. Later die middag vertrek ons op besoek aan die wêreldbekende “Sout Grotte” by Wieliczka aan die buitewyke van Krakow: Aandete in die hotel en geleenheid om die stad per voet te verken.

VRYDAG 07 JUNIE

Na ontbyt vertek ons vir twee nagte se verblyf na Krakow (Pools: Kraków) die hoofstad van Klein-Pole en aan die boloop van die Weichsel-rivier in die suide van Pole. Die reis neem ons via Oswiecim vir ‘n ‘n volledige, ingeslote besoek aan die Auschwitz konsentrasiekamp onder leiding van ‘n plaaslike gids. Die Auschwitz-konsentrasiekamp was ‘n netwerk van konsentrasie- en uitwissingskampe wat tydens die Tweede Wêreldoorlog deur Nazi-Duitsland opgerig en bedryf is. Hierdie kampe is naby die Poolse stad Auschwitz geleë. Meer as ‘n miljoen mense, hoofsaaklik Jode, het in die kampe gesterf. Reis na die besoek verder na Kraków die tweede grootste metropool in die land met ‘n bevolking van meer as 750 000. Aandete is in die hotel.

SATERDAG 08 JUNIE

Na ontbyt vertrek ons na WENE via BRATISLAWA die hoofstad van Slowakye vir ‘n kort besoek.Reis verder ons oor die Oostenrykse grens na WENE die hoofstad van Oostenryk vir een nag se verblyf. Arriveer laatmiddag. Doen ʼn kort stad en besigtigingstoer van die pragtige stad Wene. Vertrek na die hotel vir een nag se verblyf. Aandete in die hotel

SONDAG 09 JUNIE

Ons laaste vol dag in Wene en omgewing. Vandag doen ons ‘n halfdag stradtoer insluitend ʼn staptoer van die midde-stadsentrum voordat ons om 17.00 na die lughawe vertrek vanwaar ons laaaand om 20.00 vertrek vir ʼn aansluitings vlug na Johannesburg.

MAANDAG 10 JUNIE

Ons arriveer ongeveer 09:50 op Johannesburgse Internasionale Lughawe.

DIE EINDE VAN ‘N BESIGE MAAR ONVERGEETLIKE ERVARING!